Djengis Khan | |
---|---|
1ste khagan en keiser van die Mongoolse Ryk Keiser van China (nadoods vereer as Yuan-keiser) | |
’n Skets van Djengis Khan.
’n Borsbeeld van Djengis Khan in die
presidensiële paleis in Ulaanbaatar. | |
Regeer | Lente 1206 - 25 Augustus 1227 |
Volle naam | Mongools: Чингис Хаан, ᠴᠢᠩᠭᠢᠰ ᠬᠠᠭᠠᠨ |
Geboortenaam | Temoedjin |
Gebore | c. 1162 |
Oorlede | 25 Augustus 1227 (op 64-65) |
Opvolger | Ögedei Khan |
Gades | Börte Ujin Koelan Jisoegen Jisoei en ander |
Kinders | Djotsji Tsjagatai Ögedei Toloei en ander |
Adellike huis | Bordjigin |
Tempelnaam | Taizu (太祖) |
Vader | Jesoegei |
Moeder | Ho'eloen |
Djengis Khan (uitspraak: [ˈdʒɛŋɡɪs ˈkɑːn];[1] Mongools: Чингис хаан; Tsjingis chaan;[nota 1] omstreeks 1162-1227), gebore as Temoedjin of Temüjin ,[2] was die stigter, khan (heerser) en khagan (keiser) van die Mongoolse Ryk, wat ná Djengis se dood die grootste aaneenlopende ryk in die wêreld se geskiedenis geword het.
Hy het aan die bewind gekom deur die vereniging van baie van die nomadiese volke van Noordoos-Asië. Nadat hy die Mongoolse Ryk gestig het en verklaar is tot "Djengis Khan" ("universele, sterk leier"), het hy met die Mongoolse invalle en strooptogte in ander lande begin. Die grootste deel van Eurasië, tot so ver wes as Pole en die Levant in die Midde-Ooste, is verower.
In sy leeftyd het die Mongoolse Ryk eindelik groot dele van Sentraal-Asië en China beslaan. Ook middeleeuse Georgië, Kiëf-Roes en Wolga-Bulgarye is binnegeval. Dié veldtogte het dikwels gepaard gegaan met ’n grootskaalse slagting onder die burgerlike bevolkings waarin miljoene mense dood is, en daarom beskou baie mense hom as ’n wrede leier. Vanweë sy buitengewone militêre suksesse word Djengis Khan ook dikwels gereken as die grootste veroweraar van alle tye.[3]
Voor Djengis Khan se dood het hy sy seun Ögedei Khan as sy opvolger aangewys. Later het sy kleinseuns die ryk in khanate verdeel.[4] Djengis Khan is in 1227 dood nadat hy Westelike Xia verslaan het. Op sy versoek is sy oorskot iewers in Mongolië in ’n ongemerkte graf begrawe.[5] Sy afstammelinge het die Mongoolse Ryk tot oor die grootste deel van Eurasië uitgebrei deur vasalstate te oorwin of te skep in die hele moderne China, Korea, die Kaukasus en Sentraal-Asië, asook aansienlike dele van Oos-Europa en Suidwes-Asië. In baie van hierdie verowerings is die grootskaalse slagtings onder die plaaslike bevolkings herhaal. As gevolg daarvan het Djengis Khan en sy ryk ’n vreesaanjaende reputasie in plaaslike geskiedenisse.[6]
Benewens sy militêre suksesse het Djengis Khan die Mongoolse Ryk op baie maniere verbeter. Hy het die Oeigoerse skrif as die ryk se skryfstelsel aangeneem en volgens ’n meritokrasie regeer, waar mense volgens verdienste gebruik en bevorder word in plaas van volgens hulle rykdom of klas. Verder het hy godsdienstige verdraagsaamheid verkondig en die nomadiese stamme van Noordoos-Asië verenig. Hedendaagse Mongole beskou hom as die stigter van Mongolië.[7]
Djengis Khan kry ook erkenning daarvoor dat hy die Syroete onder een, samehangende politieke omgewing gebring het. Daarmee is relatief maklike kommunikasie en handel bewerkstellig tussen Noordoos-Asië, Moslemse Suidwes-Asië en Christelike Europa, wat die kulturele horisonne van al drie streke uitgebrei het.[8]
Verwysingfout: <ref>
tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/>
tag was found